Gereelde Vrae

Wat glo ons?

  • in die ewige drie-enige God, almagtige Skepper, onderhouer en regeerder van die ganse skepping.
  • in God die Vader, die outeur van die skepping en verlossing.
  • in Jesus Christus die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing van die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.
  • in die Heilige Gees, ware God wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en ons in die hele waarheid lei.
  • dat die Bybel die Woord van God is en geskryf is deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat dit die wil van God, gesaghebbend verkondig, en ons alles leer wat vir die saligheid nodig is.
  • dat alle mense na die beeld van God geskape is; as gevolg van hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend; dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense deur geloof in Jesus Christus saligheid sal ontvang.
  • in die doping met die Heilige Gees, waarvan spreke in tale ‘n teken is. Ons glo in die werking van die gawes en vrug van die Gees in die lewe van ‘n Christen. Ons glo dat ‘n Christen ‘n dissipel van Jesus Christus behoort te wees en ‘n toegewyde en heilige lewe moet lei.
  • dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil vir alle mense. As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.
  • dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die Nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die kerk onderhou moet word.
  • dat op die God-bestemde tyd Jesus Christus sy kerk sal kom wegneem.
  • in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel.
  • in die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.

Die Nuwe Testament leer dat ‘n gelowige nadat hy/sy tot bekering gekom het, in water gedoop moet word as ‘n stap van gehoorsaamheid en ook as ‘n simboliese getuienis van sy/haar vereenselwiging met Jesus Christus.

”Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”
Matt 28:19

Die toewyding van kinders aan die Here is ‘n gebed vir leiding, seën en beskerming maar ook ‘n verbintenis deur die ouers om te doen wat Hy verwag.

Die Bybel praat van God se verbintenis tot ouers in hulle ouerskap en gesinslewe. Toewyding is dus ook ‘n belydenis dat die ouers hierdie verbintenis will leef.